listen to RSG Nuus en Aktualiteit

RSG Nuus en Aktualiteit
RSG Nuus en Aktualiteit

RSG Nuus en Aktualiteit

News

FOPNUUS: Binnelandse Sake is besig om alle onwettige buitelanders te wettig

Die Departement van Binnelandse sake gaan die onafhanklike verkiesings kommissie nader om verdere aksie te neem teen enige organisasie of persoon wat waninligting versprei oor sy benadering tot asiel-aansoeke. 'n Beslissing deur die Konstitutionele hof het die departement gedwing om 'n opdrag te rig aan alle vlugtelingsentrums om asiel-aansoeke te aanvaar, al het die persoon op 'n onwettige wyse die land binnegekom. Verskeie mense het uitgevaar op sosiale media met die mening dat dit 'n aanduiding is dat die departement besig is om alle ongedokumenteerde immigrante te wettig. Die Minister van Binnelandse sake, Dr. Leon Schreiber het aan Monitor verduidelik hoekom hulle genoop is om tot aksie oor te gaan, terwyl die leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma aanvoer dat die regering weereens buitelanders in Suid Afrika bo burgers plaas. 

16:18

LP maak sy eie “seksuele oortreders-register” bekend

Die polisie portefeuje komitee se voorsitter, Ian Cameron, het 'n veldtog begin waarin hy self die identiteite van seksuele oortreders bekendmaak. Die veldtog is daarop gemik om die regering te oorreed om gestand te doen aan 'n belofte van meer as 'n jaar gelede, om die Nasionale Seksuele Oortreders Register meer toeganklik te maak. Hy het op Monitor verduidelik wie op sy lys verskyn en hoekom, en ook klarigheid gegee oor hoekom daar so gesloer word met die regering se amptelike register.  

05:33

Rekord hoë brandstofpryse gaan ons na die onwettige mark dryf

Dis die waarskuwing van 'n sekuriteitskenner wat al vir jare ondersoek instel na die onwettige handeldryf in petrol en diesel.  Waal de Waal is die hoof van operasies by Bidvest Protea Coin Security. Hulle het saam met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kommerwekkende onthullings gemaak oor die voortbestaan van kleinskaal-ondernemings wat miljoene rand uit die onwettige verkoop van brandstof maak. Hy het aan Monitor verduidelik hoe die “petrolskelms” se foefies werk en ook hoekom die regering glo nie ingryp nie.    

11:03

'n Plaasmoord in Ottosdal werp nuwe lig op Noordwes se gebrek aan ‘n landelike veiligheidsplan

Dis volgens die uitvoerende hoofbestuurder van Agri-Noordwes, Naude Pienaar. Die provinsie se plattelandse gemeenskap is geskok na die noodlottige aanval op 'n 55-jarige vrou van Ottosdal, Hannetjie van Zyl. Volgens die polisie is sy met 'n onbekende voorwerp aangerand terwyl sy 'n plaashek oopgemaak het. Ons het op Monitor breedvoerig hieroor gepraat.   

08:50

Nuwe Munispale Wetgewing is 'n stap in die regte rigting

So sê OUTA oor die Wysigingswet op Plaaslike Regering wat vandeesmaand in werking tree. Ondanks 'n verskerpte landwye fokus op korrupsie en beriggewing oor verkwistende regeringsuitgawes, toon die jongste plaaslike regeringsverslag steeds 'n toename in korrupsie en finansiële wanbestuur. Van R264 miljard verlede jaar, het verkwistende uitgawes vanjaar tot R268 miljard toegeneem. Julius Kleynhans is OUTA se uitvoerende hoof vir plaaslike regering en het aan Monitor verduidelik hoe die nuwe wetgewing sal werk. 

07:17

'n Suid Afrikaner is nou die wereld se Beste Fotografiese Kunstenaar

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Professor Zanele Muholi is vanjaar se wenner van die gesogte Hasseblad-toekenning. Die toekennings word beskou as die Oscar’s vir fotograwe. Die tydsberekening van die toekenning is veral nou relevant omdat Muholi se werk die werklikheid van sistemiese geweld belig. In 'n breedvoerige gesprek op Monitor het Muholi verduidelik wat die toekenning beteken en hoe die prysgeld aangewend sal word om 'n stem te gee aan wie ookal die stryd aanvoer om gehoor te word.   

09:04

Weermag huurvlugte is 'n mors van belasting geld. 

So se die militêre kenner Kobus Marais. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het binne vyf jaar bykans 2,4 miljard rand aan privaat huurvlugte bestee. Só het die Minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, op 'n parlementêre vraag geantwoord. Motshekga sê dat die vlugte gebruik is om onder meer toegang tot afgeleë gebiede, vredesendings, rampbestuur en die vervoer van Baie Belangrike Persone te verseker. Maar kan Suid Afrika se weermag daarsonder klaarkom? Luister en gee vir ons jou mening. 

08:06

Jongste Krotoa-uitbeelding maak seer.

So sê die voormalige joernalis en kutuur-aktivis Romantha Botha. 'n Herrie het losgebars oor die jongste uitbeelding van een van Suid-Afrika se mees veelbesproke vroue, die Khoi-Ikoon, Krotoa. Terwyl daar nooit 'n werklike beeld van die Kaap Kolonie tolk en onderhandelaar vasgelê is nie, is daar wyd gekap na die skepping van die kunstenaar Lizelle Kruger, wie se uitbeelding van Krotoa met ligte vel toon, westerse kenmerke en selfs die voorkoms van grimering, as onsensitief beskryf is. Die skildery word tans by die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad ten toon gestel. Ons het met die twee op Monitor gepraat. Wat is jou mening oor die uitbeelding?   

14:17

Al meer mense word met dimensie gediagnoseer

Jaarliks word daar wêreldwyd 10 miljoen mense met een of ander vorm van demensie gediagnoseer, wat alzheimer se siekte insluit. September is Alzheimer bewustheidsmaand, en die Global Burden of Disease verslag van die National Library of Medicyne in Amerika, toon dat teen 2050 daar meer as 680 duisend-gevalle van demensie aangemeld sal word. Dit is 'n styging van 181 persent van 2019 tot 2050. Statistieke Suid-Afrika en die departement van gesondheid hou egter nie behoorlike statistiek oor dié siekte nie, en dus kan die data nog bleker lyk. Therisia Swart en Natasja de Kock is beide arbeidsterapeute in Pretoria, wat spesialiseer in die behandeling van die Demensie. Beide is dit eens dat as die toestand vroegtydig gediagnoseer word, dit behoorlik bestuur kan word. Swart waarsku dat nie alles toegeskryf kan word aan oud word nie...   

20:33

Hoe Namibië sy eie Bek-en-Klouseer gevalle bestry.

Bek-en-Klouseer is aangemeld op 'n plaas buite Karasburg, in die suide van Namibië. Dié land se departement van Landbou het ‘n aantal beperkings in sekere gebiede op die vervoer van gesplete hoefdiere geplaas. Die president van die Namibiese Landbou Unie, Thinus Pretorius, het aan Monitor verduidelik watter ingrypings ingestel is. 

06:48

Miljarde verlaat Suid Afrika en die regering weet niks

Daar word beraam dat meer as 6 miljard rand onwettig uit Suid Afrika vloei as gevolg van swak finansiële regulasies en beheermaatreëls oor veral sake-ondernemings in die sogenaamde "Township Ekonomie." Die verslag genaamd The Nature of Stealthy Remittance in South Africa skat dat 6,3 miljard rand, wat deur spaza-winkels in die besit van buitelanders gegenereer word, die land verlaat. Om beter begrip te kry oor die situasie en watse gevolge dit dalk inhou vir Suid Afrika het ons op Monitor met Hettiene Von Abo Moolman gepraat. Sy is 'n direkteur by die Instituut vir Klein sake-ondernemings.

09:02

Spanning neem toe tussen SA en die VSA - VN Algemene Vergadering

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, het gevra dat 'n globale stelsel verander moet word wat tans Afrika en ontwikkelende lande uitsluit en faal.  Lamola het dié stelling gemaak tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering -- waar hy ook gesê het die multi-lateralisme van die Suid-Afrikaanse demokrasie het gehelp in die stryd teen apartheid; en dat dit nou ingespan kan word teen 'n diep ongelyke en verdeelde wêreld. In Naweek Aktueel praat Esté de Klerk met professor Antonie van Nieukerk, vebonde aan die Thabo Mbeki Skool vir Openbare en Internasionale Betrekkinge aan Unisa, oor die VN se Algemene Vergadering, wat die doel is van dié vergadering en vra ook of spanning tussen die VSA en SA toeneem. 

13:02

'n Tiende vroue-liggaam in Ekurhuleni gevind. Hoe vorder die polisie-ondersoek?

Die polisie fynkam die misdaadtoneel waar die liggaam van nóg 'n halfnaakte vrou vanoggend in die suide van Tembisa aan die Oos-Rand gevind is. Dis die tiende vroueliggaam wat sedert 15 Julie vanjaar in Ekurhuleni gevind is. Al die slagoffers is vermoor. Die polisie sê die moontlikheid dat 'n reeksmoordenaar aan die werk is kan nie uitgesluit word nie. In Naweek Aktueel praat Esté de Klerk met die SAUK-verslaggewer, Neria Hlakotsa wat op die moordtoneel is, en ook met die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron oor die polisieondersoek en DNS wat met die sake verbind kan word. 

11:00

NAWEEKAKTUEEL 26 SEPTEMBER 2026

Die liggaam van 'n tiende halfnaakte vrou word in die Mooifontein-begraafplaas naby Tembisa-suid in die Ekurhuleni-gebied gevind; die polisie sê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat 'n reeksmoordenaar aan die werk is nie; Suid-Afrika beoog om 'n handelsooreenkoms oor kritieke minerale met Amerika te sluit; en kritiek oor die weermag se tentatiewe planne om die R4 en R5 met nuwe dienswapens te vervang. Dit en nog meer in Naweek Aktueel saam met Esté de Klerk. 

51:57

Verkiesingsnuus: DA hof toe oor PR lyste en VF+ bo aan kieslyste

Action SA sê die DA is besig om Suid-Afrikaners se demokratiese reg om te kan stem van hulle te ontneem deur hulle jongste hofoptrede. Dit volg nadat die DA die kieshof genader het, om die proporsionele lyste van die Good party, Action SA , die MK-party en die EFF, onwettig te laat verklaar. Die DA wil ook hê dat die lyste tersyde gestel word. Die partye het slegs een kandidaat op die lyste vir verskeie munisipaliteite geplaas. Die DA voer verder aan dat kiesers van deurslaggewende inligting ontneem word deur net een kandidaat op die PR lys te plaas. Ons praat nou met 'n politieke ontleder van Unisa, Professor Dirk Kotze... 

06:58

Vriend van Lt. generaal Sibiya verdedig hom

Die staat voer aan dat daar beslaggelê moet word op al Luitenant-genraal Shadrack Sibiya se elektroniese toestelle om intimidasie te verhoed. Die toestelle is ook nodig in die ondersoek na klagtes van moontlike intimidasie wat deur die klaers in die saak gemaak is. Dit was die staat se verweer in die Randburgse Landdroshof waar Sibiya gister verskyn het op klagtes van mensehandel, verkragting, die bevordering van die seksuele voorbereiding van 'n minderjarige en twee aanklagtes van seksuele voorbereiding van 'n minderjarige. Intussen het 'n goeie vriend van Sibiya, Biskop Lauzerus Maumela gesê hierdie is alles deel van 'n komplot om te verseker dat Sibiya nie die nasionale polisiekommissaris word nie. Maumela het vroeer met ons suster stasie SAFM gepraat. Maumela sê hy het Sibiya tydens sy arrestasie gekonfronteer oor die aanklagtes teen hom. Hier is die volle onderhoud...

25:52

VSA wil nie sê wie is op die lys van visumbeperkings nie.

Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, sê die name van Suid-Afrikaners wat deur visumregulasies geraak word, sal nie bekend gemaak word nie. Die VSA beplan om visumbeperkings in te stel teen staatsdienswerkers wat by die opstelling van wetgewing oor grondonteiening betrokke is, asook diegene wat, volgens die regering, voortdurend die "Kill the boer, Kill the farmer"-liedjie bevorder. Lizaan Groenewald doen verslag.

03:16

Gauteng se meer gegoede skole sukkel

Meer gegoede skole in Gauteng moet vanjaar met minder klaar kom, omdat die provinsiale departement miljoene rand meer sny aan befondsing vir Kwintiel 5 skole. Die skole wat die geld aan onder meer ekstra onderwysers bestee, gaan sukkel om dit voortaan te doen. Die bestuurshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole of FEDSAS, Dr. Jaco Deacon, sê Gauteng betaal nou die bedrag soos voorgeskryf deur die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing. Skole is egter die afgelope paar jaar meer betaal en het sodanig begroot.

05:59

Die president wil een miljard bome laat plant...

Suid-Afrika beoog om een miljard bome landwyd oor die volgende vyf jaar te plant. Dit sal onder meer help om klimaatsverandering te bekamp, luggehalte te verbeter en groener en gesonder gemeenskappe te skep. Die Adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, lei die implementering van dié presidensiële program, wat op Erfenisdag in Pretoria bekendgestel sal word. Ons praat nou hieroor met haar.

05:26

Jongste oor mense wat inhegtenis geneem is vir die moord op een van die Kemptonpark moord slagoffers

Twee vroue en 'n man maak hul eerste verskyning in die Boksburgse Landdroshof in verband met die moord op 'n vrou, wat as die negende slagoffer in die Ekurhuleni-moorde beskryf word. Die liggaam van Jabulile Ntimba is verlede Donderdag deur 'n verbyganger langs 'n pad in Dawn Park aan die Oosrand gevind, te midde van toenemende kommer oor geslagsgeweld en vrouemoord in Suid-Afrika. Die drie verdagtes is die naweek in hegtenis geneem. Ons praat nou hieroor met SAUK-verslaggewer, Refilwe Mekoa.

07:05
Close

Save video to ...