listen to Dieremaniere

Dieremaniere
Dieremaniere

Dieremaniere

Society & Culture 2025

Dieremaniere vier die diep band tussen mense en troeteldiere – van die geliefde huiskat tot die reddingshond, die nuuskierige konyn, die spraaksame papegaai tot die onverwagse toegeneentheid van 'n troeteldierbok, -vark of -donkie. In elke episode verken ons die eienaardige, hartverwarmende en soms skreeusnaakse maniere waarop diere ons lewe verryk. Dit word sangebied deur 'n passievolle diereliefhebber en omroeper, Elsje van Jaarsveld, wat persoonlike stories oor haar geesdriftige Beagle, Gabby, deel. Die program bevat 'n mengsel van gaste: bekendes, luisteraars, veeartse, dieregedragskundiges en troeteldiereienaars uit alle uithoeke van die samelewing. Saam bring hulle stories tot lewe wat roerend, insiggewend en onweerstaanbaar vermaaklik is. Of ons nou praat oor die versorging van eksotiese troeteldiere soos visse of voëls, die reis van reddingsdiere, of selfs 'n onvergeetlike ontmoeting met 'n leeumannetjie, sluit Dieremaniere alle troeteldiere in, groot en klein. Met elke episode skep ons 'n ruimte waar diereliefhebbers verbind, opgelig en geïnspireer kan voel. Jy kan elke Donderdag uitsien na 'n nuwe episode.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E12

In hierdie episode volg ons die merkwaardige pad van herstel en redding van vier diere - die hondjie Bobby, die leeus Karlos en Ivana, en die perd Bruce wat eens op moed verloor se vlakte was. Bobby is aanvanklik op sosiale media gesien in die agtergrond van ‘n smaakmaker se video, uitgeteer en verwaarloos. Karlos en Ivana is by ‘n leeupark gaan haal, en Bruce is van verhongering gered. Elsje van Jaarsveld praat met Jacques Peacock van die Nasionale Raad van Diereverenigings oor die speurwerk en volgehoue toewyding van inspekteurs wat diere uit gevaarlike en verwaarloosde omstandighede red. Hy verduidelik hoe die DBV en sy span werk om diere te bevry, en hoekom mense diere in die eerste plek verwaarloos.

40:02

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E11

In hierdie episode fokus ons op ’n stil, maar ernstige bedreiging vir voëls: botsings met kragdrade en windturbinelemme. Groot landvoëls soos kraanvoëls en poue, asook watervoëls soos flaminke, is veral kwesbaar. Die Bedreigde Natuurlewefonds werk reeds sedert 1996 saam met Eskom om hierdie voorvalle te ondersoek en oplossings te ontwikkel. Van sigbare merkers op kragdrade tot nuwe tegnologie soos sonkrag-aangedrewe flikkerligte wat snags werk, word ingespan om voëls te beskerm. Tog bly die uitdagings groot, veral omdat baie van hierdie voëls in die nag vlieg. Mattheuns Pretorius verduidelik hoe navorsing en praktiese ingrypings help om botsings te verminder, en watter planne werklik ’n verskil maak.

29:28

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E10

Ons neem jou na die voorste linies in die stryd teen wildsmokkelary, waar slim snuffelhonde en hulle hanteerders ’n onmisbare rol speel. Elsje van Jaarsveld gesels met Lourens Leewner van die Bedreigde Natuurlewe Fonds oor hoe hierdie hoogs opgeleide honde by lughawens en grensposte werk om onwettige produkte soos renosterhoring, ietermagoskubbe, vetplante en reptiele op te spoor, voor dit die land kan verlaat. Hy verduidelik hoe korrekte intelligensie die polisie help om te weet watter vragte om te teiken, en hoe die honde opgelei word om dié items uit te snuffel. Ons kry ook ’n kykie na die unieke band tussen hond en hanteerder, en wat vir die hond voorlê ná sy aftrede.

38:31

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E09

In hierdie aangrypende episode gesels Elsje van Jaarsveld met Adine Roode, die vrou agter HERD (Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development), Suid-Afrika se eerste toegewyde olifant-weeshuis. Sy neem ons na die olifantkalwers wat sy red, versorg en weer integreer in ‘n olifanttrop om hulle eie saamgestelde gesin te vorm. Hierdie kalfies is wees gelaat weens stroping en konflik tussen mens en dier. Die ouer olifantkoeie wat ook as wesies by die Olifant-weeshuis aangekom het, maak hierdie kalfies groot as hulle eie. Deur stories soos dié van die albino-olifant, Khanyisa, ontdek ons die diep verbintenis, rou en herstel wat hierdie merkwaardige diere ervaar.

45:34

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E08

Ons leer meer van ’n stokperdjie wat vir almal beskore is - voëlkyk. Of jy nou op jou stoep koffie drink, langs ’n snelweg ry of in die natuur gaan stap, ons geveerde vriende is altyd naby. Professionele voëlkyker Faansie Peacock verduidelik hoe voëlkyk werk, wat die basiese beginsels is en hoe jy daarmee kan begin. Suidelike Afrika is ‘n uiterse ryk voëldiversiteitstreek, met verskillende habitatte en unieke endemiese spesies. Ons hoor ook hoe ’n mens by die groter voëlkykgemeenskap kan aansluit, van projekte en organisasies tot voëlklubs en sosiale media. En natuurlik: hoe jy kinders kan betrek sodat hulle ook ’n waardering vir die natuur en ons kleurvolle diereryk ontwikkel.

40:32

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E07

’n Resiesperd se loopbaan is dikwels net ’n paar jaar, en baie van hulle tree reeds op drie- of vierjarige ouderdom uit. Tog bly daar nog hope energie, stamina en potensiaal oor vir ’n nuwe lewe. Hierdie perde ondergaan ’n intense heropleidingsproses by die Western Cape Equine Trust. Gewoontes wat vir resies nodig was, moet eers afgeleer word, soos die instink om met die grootste vaart weg te trek, of om altyd teen ander perde te kompeteer. Met geduldige opleiding word hulle geleidelik voorberei vir nuwe rolle as dresseerperde, skouperde, ontspanningsperde, of selfs stoetperde. Elsje van Jaarsveld praat met die span van die Western Cape Equine Trust, ’n organisasie wat al sedert 2005 help om ’n veilige toekoms vir afgetrede volbloed-resiesperde te verseker. Hulle neem die perde in, en met sorg en toewyding, lei hulle die perde weer op en plaas hulle uiteindelik by liefdevolle, deeglik gekeurde eienaars waar die diere kan floreer.

39:07

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E06

Kan ’n mens werklik met diere kommunikeer? Nie net deur lyftaal en gedrag nie, maar op ’n dieper, intuïtiewe vlak? Lisel Kruger verduidelik hoe sy boodskappe vir diere oor ‘n afstand stuur, en dat hulle terug kommunikeer. Sy kan selfs met diere internasionaal gesels. Bo en behalwe kommunikasie met diere, gebruik sy ook aroma-olie om diere se welstand te ondersteun. Of jy saamstem of skepties is, ons hoor dit uit die perd se bek.

45:23

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E05

In hierdie aangrypende episode neem ons jou na plekke waar sjimpansees uit die kloue van dierehandel gered word. Saam met Eugene Cussons, stigter van Chimp Eden, hoor ons van lewensgevaarlike reddingsendings, trauma en die stadige pad na herstel van hierdie diere. In samewerking met die Jane Goodall Instituut het hy hoop gebring waar daar byna niks was nie. Sy werk is wêreldwyd bekend danksy ESCAPE TO CHIMP EDEN op Animal Planet, wat die pyn én die wonder van herstel vasgevang het. Dis ’n storie van moed, opoffering en ’n besondere band met dr. Jane Goodall, wat nuwe lewe bring vir hierdie diere aan die suidpunt van Afrika.

53:56

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E04

Die geliefde kinderboekskrywer Jaco Jacobs, met meer as 40 literêre toekennings op sy kerfstok, skep wêrelde vol verbeelding en warmte. Agter elke storie is daar ’n sagte, lewende inspirasie: sy ongewone, liefdevolle huisgesin van diere. Hy skryf sy kinderstories in die geselskap van Cleo die slang, sy stille kameraad wat gereeld by hom kuier terwyl die woorde vloei. By die huis wag daar ook vier tarantulas, konyne, ’n nuuskierige baarddrakie, ’n geselserige gryspapegaai, ’n kokketiel en ’n vrolike budgie. En dan is daar natuurlik Oreo, sy getroue skaaphond en drafmaat, wat elke dag saam met hom die wêreld aandurf. In hierdie hartroerende episode vertel Jaco wat sy persoonlike “dieretuin” vir hom en sy gesin beteken, hoe elke dier ’n unieke plek in hulle har het, hoe hulle saamstaan wanneer ’n dier siek word, en hoe sorg en beplanning deel word van elke vakansie of wegbreek. Dit is ’n warm, eerlike gesprek oor verantwoordelikheid, deernis en die besondere band tussen mens en dier. Dit herinner dat ons nie net vir ons diere sorg nie, maar dat hulle ook op hulle eie stille manier vir ons sorg.

48:55

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E03

Optel is ‘n gemeenskap se hond, en nou is hy skoonveld. Die gemeenskap is ontsteld, en almal soek naarstiglik na hom. Hoor watter verskil ‘n dier in ’n hele gemeenskap maak, en ook ‘n rol in ‘n film speel. Dit is die storie van Finding Optel, wat sy debuut in 2025 by die Silwerskermfees gemaak het. Dit het daar ‘n toekenning verwerf. Mikayla Brown, skrywer, regiseur en aktrise vertel waarom sy juis hierdie storie van Optel wou vertel. Maar om ‘n hond in ‘n film te sien, beteken daar was ‘n hond op ‘n filmstel. Garin van Munster doen diere-afrigting op filmstelle, televisiereekse en advertensies. Hy sorg dat perde galop en katte op die regte plek in in ‘n film miaau. Ons hoor hoe ‘n regisseur met diere in ‘n produksie te werk gaan.

43:47

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E02

Na aanleiding van haar rol in die rolprent, MY F*K MARILIZE!, vertel akrise Je-Ani Swiegelaar van haar persoonlike ervaring in die openbare oog. Sy vertel watter skuiling haar diere vir haar bied ná ‘n lang dag op stel, en sy maak hart oop oor Karel, Bertus, Jacobus, Jumangi en Arafat - almal troeteldiere in haar huis waar sy alleen bly. Je-Ani is ‘n lewenslustige mens wat tans voorberei vir die ystermankompetisie, haar eie huis restoureer en gereeld op die planke by kunstefeeste te sien is in uiteenlopende rolle. Sy is ook baie geliefd onder kykers vir haar vertolking van suster Naomi in die kykNET-sepie, Binnelanders.

55:05

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E01

Ons kuier in Namibië by Ruben Lambrecht op die plaas naby Windhoek. Ruben het die afgelope twee jaar ‘n internetsensasie geword met video’s van sy interaksie met sy wilde aanneemdiere. Die diere is almal kwesbaar gelaat in die natuur tot Ruben hulle aangeneem en ‘n tweede kans op die lewe gegee het. Ruben se ark is vol verskillende diere - van ‘n vlakvark, meerkat, sebra, ystervark en die bobbejaan Cindy, saam met wie hy groot geword het. Ruben maak sy hart oop ná die afsterwe van Cindy, en hy vertel hoe sy lewe verloop het tot by die diere waar hy elke dag op sy gelukkigste is.

44:42

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 20

Al ooit gehoor van terapiehonde? Dit is honde wat siekebesoek doen in hospitale, iemand se lewe opkikker in die verswakte afdelings, en mishandelde kinders ondersteun om gemaklik in ‘n hof te getuig. Corrie Niemand van Topdogs vertel hoe honde dit regkry om kinders se leer- en konsentrasievermoë te verbeter.

46:41

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 19

Hoe help jy jou troeteldier in ‘n noodgeval? In die voorlaaste episode van die eerste seisoen, verduidelik dr. Dean de Kock, medestigter van die Valley Farm Dierehospitaal, wat jou te doen staan wanneer ‘n kar jou dier omstamp, wanneer ‘n hondegeveg uitbreek of wanneer jou troeteldier in enige vorm van nood verkeer. Hy neem ons ook agter die skerms waar die televisieprogram, Pootpraktyk, in die dierehospitaal se teaters, laboratoriums en by die diere se aansterkhokke verfilm is. Pootpraktyk is ‘n werklikheidsreeks op kykNET wat die gebeure in ‘n dierehospitaal volg met al die spanning, emosie en verligting wat gepaardgaan met ‘n geliefde troeteldier se behandeling.

47:24

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 18

Dit is enige troeteldiereienaar se grootste dilemma wanneer jou dier siek is, maar nie kan kommunikeer wat fout is nie. Hoe moet jy weet jou dier het pyn, of het dringend ‘n veearts nodig? Dr. Alta-Marie van der Westhuizen van die Waterkloofrif Dierekliniek beantwoord luisteraars se vrae oor hulle diere se gesondheid. Waarom eet ‘n hond grond? Hoe kan jy agterkom jou kat het pyn?

43:52

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 17

Na aanleiding van luisteraars se vrae oor hondegedrag, gee die gespesialiseerde hondegedragskenner, John Greyvensteyn van die Braveheart Bio-honde-akademie, raad oor honde wat gate grou, hoe om honde en katte vreedsaam in een huis te laat leef, en hoe troeteldiere geleer kan word om buite te slaap. Hy verduidelik ook hoe hy honde oplei as snuffelhonde, spoorsnyhonde en honde vir persoonlike beskerming. John is ‘n hoogaangeskrewe spreker, een van ’n handvol geakrediteerde instrukteurs, en het al baanbrekersnavorsing gedoen oor hondegedrag. (Vrywaring: John Greyvenstein word in hierdie program aangespreek as dokter Greyvenstein. Dit verwys egter na die hulp wat hy aan honde en eienaars bied en is nie ‘n professionele titel nie.)

55:49

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 16

Diere in hulle goue jare het ‘n bietjie ekstra sorg nodig. Van ‘n seer heup tot ‘n sensitiewe maag - dit is alles deel van jou dier se ouerword. Dr. Gerhardus Scheepers van die Zodiac Dierekliniek op Brits verduidelik hoe jy na jou ouer dier moet omsien om die laaste paar jaar in goud te verander.

01:00:59

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 15

Dis Oktober, die mooiste, mooiste maand, en ook die tyd om jou jaarlikse wegbreek te beplan. Maar wat word van jou troeteldier-kind? Elsje van Jaarsveld gesels met die bestuurshoof van BidAir Cargo, Muriel Sahd. Dié maatskappy bied ‘n gespesialiseerde diens om troeteldiere, groot en klein, per vliegtuig te vervoer. Sy verduidelik wat die proses behels, en wat jy as troeteldiereienaar kan doen om die proses gemaklik en stresvry vir jou dier te maak.

45:40

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 14

Hondegedragkenner Gideon Beukes het raad vir die diere sonder maniere. Elsje van Jaarsveld gesels met Gideon om luisteraars se vrae oor hulle stoute honde te beantwoord. Is dit voordelig as jou hond besitlik is oor jou? Hoe kalmeer jy ‘n skaaphond wat nie wil hê jy moet in die swembad spring nie? Hoe verander jy ‘n volwasse hond se ongerieflike gewoontes?

01:06:34

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 13

Honde met slegte gewoontes kry hulle dag hier op Dieremaniere. Gideon Beukes is ’n hondegedragskenner, en verrig wondere met honde, al het jy gedink niemand sal hond haaraf met jou brakkie kan maak nie. Gideon verduidelik hoe om jou bejaarde hond te leer om nie meer teen gaste op te spring nie, en hy het selfs doepa vir jou aanneemhond se skeidingsangs. Verder hoor ons wat luisteraars hulle konyne sou noem as hulle dié klein intelligente diertjies as troeteldiere sou hê.

01:04:24
Close

Save video to ...