Dieremaniere

Society & Culture 2025

Dieremaniere vier die diep band tussen mense en troeteldiere – van die geliefde huiskat tot die reddingshond, die nuuskierige konyn, die spraaksame papegaai tot die onverwagse toegeneentheid van 'n troeteldierbok, -vark of -donkie. In elke episode verken ons die eienaardige, hartverwarmende en soms skreeusnaakse maniere waarop diere ons lewe verryk. Dit word sangebied deur 'n passievolle diereliefhebber en omroeper, Elsje van Jaarsveld, wat persoonlike stories oor haar geesdriftige Beagle, Gabby, deel. Die program bevat 'n mengsel van gaste: bekendes, luisteraars, veeartse, dieregedragskundiges en troeteldiereienaars uit alle uithoeke van die samelewing. Saam bring hulle stories tot lewe wat roerend, insiggewend en onweerstaanbaar vermaaklik is. Of ons nou praat oor die versorging van eksotiese troeteldiere soos visse of voëls, die reis van reddingsdiere, of selfs 'n onvergeetlike ontmoeting met 'n leeumannetjie, sluit Dieremaniere alle troeteldiere in, groot en klein. Met elke episode skep ons 'n ruimte waar diereliefhebbers verbind, opgelig en geïnspireer kan voel. Jy kan elke Donderdag uitsien na 'n nuwe episode.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 7

Killer, ‘n Belgiese herdershond, se diens as spoorsnyhond in die Kruger Nasionale Wildtuin het gelei tot 200 arrestasies van renosterstropers. Honde is ons beste maat in die stryd teen stropers. Hoe word ‘n hond opgelei om ‘n stroper plat te trek? Thys Kleyn lei honde op om renosterstropers vas te trek, springstof uit te snuffel, verbode middels en dwelms op te spoor, en patrolliewerk saam met die polisie te doen. Thys het saam met honde in oorloggeteisterde lande landmyne opgespoor. Hy vertel vir Elsje van Jaarsveld watter belangrike werk honde op lughawens doen, en hoe waardevol hulle in die wildtuin is. Ons hoor ook of luisteraars werklik dink of die donkie ‘n wonderlike ding is.

01:02:39

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 6

Is die donkie ‘n wonderlike ding? Elsje van Jaarsveld gesels met Anni Kitley, bestuurder van Woodrock Animal Rescue wat omsien na ‘n span donkies, en ons vind uit wat beteken jou troeteldier vir jou. Ons hoor ook watter honderas is die beste ras, en ons maak ‘n draai by die veearts om uit te vind watter algemene siektes onder katte voorkom.

39:41

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 5

Elsje van Jaarsveld praat met Pieter Steyn en Minette van der Walt oor drie Labrador-hondjies wat hulle grootmaak sodat die honde later kan diens doen as gidshonde vir ‘n gesiggestremde persoon, ‘n persoon met ‘n fisiese gestremdheid of outistiese kinders. Hulle gesels oor die aangename tye saam met die klein hondjies, en oor die vereistes waaraan hulle moet voldoen. Ons hoor ook watter plaasdiere luisteraars graag as troeteldiere sal wil aanneem.

47:51

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 4

Kan plaasdiere ook troeteldiere wees? Cameron Herselman, hoofbestuurder van Wetnose Animal Rescue, vertel van Molly die skaap en Bacon die vark wat wag dat iemand hulle aanneem om as troeteldiere op die erf te kan bly. Hy vertel hoe Molly en Bacon by ‘n diereskuiling beland het, en ons hoor of luisteraars kans sien om ‘n leeu met die hand groot te maak.

41:09

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 3

Elsa die leeu het in Pretoria se middestad aangekom toe sy slegs vyf dae oud was. Leon Wentzel het haar vir die eerste sewe maande van sy lewe soos sy eie kind grootgemaak, met tot vier botteltye per nag. Sy is later na ‘n leeupark geskuif toe sy groot genoeg was. Elsa het haar naam te danke aan ‘n leeu in Kenia wat deur ‘n natuurbewaarder per hand grootgemaak is, wat ook Elsa genoem is. Verder gesels Elsje van Jaarsveld met veearts dr. Gerhardus Scheepers, wat ook ‘n leeu grootgemaak het, oor leeus se persoonlikheid en behoeftes op ‘n jong ouderdom.

43:03

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 2

Dis ‘n kattebasaar op RSG Bekbasaar! Die komediant, Mel die Storieverteller, skinder oor haar twee huiskatte, en ons lag vir al haar pittige sêgoed. Veearts dr. Gerhardus Scheepers van die Zodiac Dierekliniek in Brits, ‘n katliefhebber, verduidelik in fyn besonderhede hoe daar na ‘n kat omgesien moet word. Elsje van Jaarsveld lees ‘n gedig uit Lina Spies se digbundel, MAJESTEIT, DIE KAT, voor.

44:36

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode 1

Skerpskertser Schalk Bezuidenhoudt vertel van sy twee aanneemhonde, Fin en Otis, wat soms sukkel met goeie maniere. Ons vra raad by hondegedragskenner John Greyvensteyn van die Braveheart Bio Honde-akademie. Elsje van Jaarsveld, aanbieder van Dieremaniere, deel staaltjies oor haar beagle, Gabby, en ons vind uit wat voorlê in Dieremaniere.

49:48
Close

Save video to ...